Monday 19 November 2018

Paarl Vallei uitreik 13 November 2018- Kanthararom

Paarl Vallei Gemeente het 13 -16 November 2018  kom uitreik hier by Frontida Outreach in Kanthararom.  Ons is so dankbaar en het groot waardeering vir hulle harte, liefde en omgee vir Frontida en ook vir die gemeenskappe waarin ons werk.  Ons deel graag met julle hulle eie getuienisse van hulle tyd hier (met hul toestemming en uit die pen van Tilana Meyer Morkel) soos gedeel op PaarlVallei se Facebook blad.

  
Dit het gevoel asof ons so saam met die soon in Kanthararon aangekom het, waar André en Marina Olivier ons met oop arms en groot glimlagte ontvang. Met min, en rustelose, slaap het ons vol moed die nuwe dag, in die nuwe dorp aangepak. Die Oliviers het ons na die bedieningshuis geneem, waar ons vir die volgende paar aande slaap. Ons werk hier in Kanthararom ook met die emmer-sisteem vir die toilette, en voel sommer tuis.

Nadat ons tyd gehad het om te stort en vars aan te trek, het die Oliviers vir ons ń heerlike ontbyt gemaak - presies wat ons nodig gehad het om die dag vol entoesiasme aan te pak. Tydens ontbyt het hulle ook met ons die werk wat Frontida doen, gedeel. Deel daarvan is ook die storie van hoe hulle in Kanthararom opgeëindig het. Deur die deel van hulle storie, raak ons ook op ń baie klein skaal deel van die storie wat God deur hulle skryf.  


Na ontbyt is ons na hulle kerk toe, wat tans uit 14 lidmate bestaan. Ons ontmoet vir Tavisak en Khung, die pastoor en sy vrou (wat ook besig is met Bybelskool om ń pastoor te word!). Hulle deel hulle droom en visie vir die kerk en ons bid dat die gemeente ń baken van hoop in die gemeenskap sal word.


Ons hoor dat een van die lidmate van die gemeente skielik ń brein operasie moes kry, en ons ry om die man en sy gesin te gaan besoek. Die gesin bly in ń eenvoudige huisie, en hulle recycle vir inkomste. Die vrou, Joy, is ongeletterd en kan ook nie bestuur nie en maak ten volle staat op haar man. Haar hartseer was tasbaar, en ons kon niks anders doen as om vir haar ń stywe druk te gee en haar man aan die Here op te dra nie. Ons moet bieg dat ons loop met die moeilike vraag: wat is God se doel hiermee? Ons erken aan mekaar ook weer ons gebrokenheid, en deur die dag hou ons aan gesels oor hoe ons vir God raaksien, en hoe ons op God se uitkoms wag. Ons vra dat julle asb saam met ons bid vir Pi Joy (die man), Liam en hulle gesin in hierdie tyd.



Rondom middagete is ons pootuit en werk ons siesta tyd in. Laatmiddag is ons na die plaaslike mark toe waar ons vir Peter ontmoet. Peter het as katoliek groot geword, en praat uitstekend engels. Hy het vroeër in sy lewe klere verkoop, maar het besluit om eerder in sy stalletjie engels na skool vir kinders te leer. Hy maak grappies, en verwelkom ons met ń breë glimlag. Hy het saam met ons deur die mark gestap en vir ons verduidelik wat al die vreemde goed is wat ons nie herken nie.


Direk van die mark af is ons na Marina en André se huis toe waar hulle ons in hulle binnekamer verwelkom het. Ons het na die warm dag lekker onder die aircon gesit en geluister na getuienisse uit ons eie span, en Marina en André se storie. Ons het diep bewus geraak van die onregverdigheid en ongeregtigheid wat daar dikwels in die lewe is - soms deur ons eie keuses en toedoen, en soms net as gevolg van ander mense. Saam met hierdie bewustheid van ons gebroke wêreld, is ons ook diep bewus van God se genade wat saam met ons gaan.


Handelinge 20:24 leef vandag in ons harte: “Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak: dit is om die evangelie van God te verkondig”.

No comments:

Post a Comment