Monday 19 November 2018

Paarl Vallei uitreik 14 November 2018 - Kanthararom

 
Paarl Vallei Gemeente het 13 -16 November 2018  kom uitreik hier by Frontida Outreach in Kanthararom.  Ons is so dankbaar en het groot waardeering vir hulle harte, liefde en omgee vir Frontida en ook vir die gemeenskappe waarin ons werk.  Ons deel graag met julle hulle eie getuienisse van hulle tyd hier (met hul toestemming en uit die pen van Tilana Meyer Morkel) soos gedeel op PaarlVallei se Facebook blad.
 

Nelson Mandela het gesê:�“Safety and security don’t just happen, they are result of collective consensus and public investment. We owe our children, the most vulnerable citizens in our society, a life free of violence and fear.” Natuurlik het oud-President Mandela vanuit die Suid-Afrikaanse konteks gepraat, maar dit is net so waar in die res van die wêreld. Veral Thailand - waar kinders op (veral) die platteland ń groot teiken van mensehandel is. Marina vertel dat as hulle vir die kinders vra waarvoor hulle bang is dan antwoord hulle met dinge soos: “dat dit donker word en ek word gesteel”, “demone” en dat “ek nie wakker word nie”. Dit is die realiteit van hierdie kinders wat aan armoede en onreg uitgelewer is, veral in die dorpies waar daar baie voorvalle van hekse, mensehandel en dwelms is.


Só, is ons na ontbyt saam met Peter en die Oliviers (waar ons ook vir Peter gebid het) na die eerste skooltjie toe vir kinderbediening. Die skool sisterm val onder die Buddistiese wetgewing, en dit is Genade van Bo dat André en Marina ń oop deur het om by die skole betrokke te wees. Die Oliviers is op verskillende vlakke betrokke by die skool, en los diep liefdesspore. Die skool waarby hulle oor die afgelope paar jaar betrokke is, is onlangs as een van die top 10 plaasskole aangewys. Die skoolhoof en onderwyseresse besef wat die impak is wat hulle werk op die kinders en op die skole het. Marina is oortuig dat die grootste verskil is, dat hulle deur die liefde van Christus gedryf word!

Ons is na die eerste skooltjie toe, wat 26 kinders het, waar ons die storie van Jona vertel het, en ń lekker aktiwiteit met hulle gedoen het. Leané het die lessie aangebied en die Thai kinders is so ontvanklik, dat hulle na die storie oor Jona, dit met entoesiasme, in Thai, kon oorvertel.







Ons is dankbaar vir André en Marina, want hulle sal nou die saad wat geplant is verder water en kos gee, deur Jona se verhaal dieper te vat en vas te lê. Mag die Here die storie van Jona in die kinders se harte laat leef.


Die tweede skool is in Sisaket, waar daar so 46 kinders in die skool is. Dié skool is geleë in ń armer deel van die streek. André en Marina se betrokkenheid by die skool het onlangs eers begin, met die skuif van die skoolhoof vanaf die eerste na die tweede skool.

 

Daar is baie potensiaal by hierdie skool en ons bid dat die deure vir die Evangelie, vir liefde en genade sal aanhou oopgaan.





Vanuit ons gemeente en individue se bydraes kon ons vir elke kind ń pakkie opmaak met lekker eertgoedjies (2 min noodles, pakkies ontbytpap, ń lekkertjie, ń chippie ens), tandeborsel en tandepaste, twee Thai Bybelstories en ń melkie. Die kinders was uit hulle nate uit opgewonde oor die pakkies.


Later die aand na verfrissende smoothies en heerlike aandete, het ons lank gesels oor die waarde van kinderbediening. Dit val ons by dat by beide die kinderprojekte in Phuket, en Kanthararom, die kinders kop en skouers uitstaan bo die res van hulle klasmaats. Die onderwysers getuig daarvan en vra gereeld wat die geheim is. Die potensiaal wat ons deur Christus kan ontgin en benut hou eindelose waarde in vir dié kinders.

André en Marina is beide betrokke by die tronk in Bangkok, waar hulle veral ń pad stap met die Suid-Afrikaners wat hier in die tronk beland het. Hulle deel ongelooflike getuienisse oor bekering, hoop en versoening. Ons harte gaan uit vir hierdie mense wat in die tronk beland het weens desperaatheid, dwelms en onreg. Ons bid dat hulle uiteindelik weer met hulle gesinne kan versoen, dat hulle voete weer op Suid-Afrikaanse grond kan land. (Helfte van ons span bly aan na die ander huistoe is, en hulle gaan saam met André en Marina tronkbesoek doen!)

No comments:

Post a Comment