Monday 19 November 2018

Paarl Vallei Uitreik 15 -16 November 2018 - Kanthararom

Paarl Vallei Gemeente het 13 -16 November 2018  kom uitreik hier by Frontida Outreach in Kanthararom.  Ons is so dankbaar en het groot waardeering vir hulle harte, liefde en omgee vir Frontida en ook vir die gemeenskappe waarin ons werk.  Ons deel graag met julle hulle eie getuienisse van hulle tyd hier (met hul toestemming en uit die pen van Tilana Meyer Morkel) soos gedeel op PaarlVallei se Facebook blad. 


Die laaste twee dae by André en Marina was gevul met diep gesprekke, stories deel en saam bid. Ons het uit Kanthararom gery na Sisaket (en wyer) om die area waarin hulle werk te verken. Hulle het vir ons ń paar van hulle gunstellinge plekke gaan wys wat ongeveer so 75km van hulle huis af is. 


Die dag was warm en bedompig, en ons was aangenaam verras toe ons eerste stop by ń rivier met poele was, waar ons kon swem.

 

Daarna gaan wys hulle vir ons die plekkie met die swembad waarheen hulle dikwels ontsnap. Hier swem ons weer en Marina deel haar hart vir buitelanders wat Thailand toe kom en hier heenkome probeer vind, en hoe sy glo dat dit uiteindelik deel van haar bediening gaan wees. Ons bid saam met haar oor hierdie bediening.
André het die span bemoedig en vertel hoe die impak wat gemaak word nooit onderskat moet word nie. Hy sê dat dit byna nooit gebeur dat mens die uitkoms of transformasie onmiddelik voel nie. Die belangrikste ding is wat gebeur na ons kort-termyn kuier. Dit is vir ons span bemoedigend, want ons is in afwagting oor wat God gaan doen wanneer ons ook uiteindelik terug is in Paarl.

 





Soos enige ware Suid-Afrikaner, het ons ons tyd by hulle afgesluit met ń braai. Daar is min plekke in die wêreld wat ons as Suid-Afrikaners so bymekaar bring soos die braaivleis vuur!

Vrydag was ons deur na Ruamchai (in die Ubon provinsie) toe, waar André en Marina ons aan hulle mentors (Anna & Ingvar) voorgestel het. Hulle het al vir 28 jaar ń bediening in Thailand. Die bediening staan tans op drie bene: “child safe”, “churchplanting” & “tree of life”. Ons het saam met hulle span, en ń span van swede aanbid en voorbidding gedoen. Ons kon weer die Gees voel beweeg in die vertrek. Ons is dankbaar hieroor.
Daar is ń goeie samewerking tussen Frontida en R4U. Dit is ń ongelooflike belydenis van hoe die Liggaam van Christus werklik saam beter is!


 

Voordat ons weer die aandtrein terug Bangkok toe gevat het het ons bymekaar gekom om terugvoer te gee oor die paar dae. Ons kon saam droom en hoop vir volgende geleenthede. Dit was ń voorreg om vir die Oliviers en hulle bediening te bid.


Ons vertrou dat die Gees in en deur hulle sal werk om tree vir tree die aanslae van die bose te hanteer, en só iets van Christus se liefde bekend te maak vir diegene wat nog nie die liefde van Christus ervaar het nie.

No comments:

Post a Comment