Monday 26 November 2018

Paarl Vallei Uitreik 22-23 November 2018 - Bangkok

Paarl Vallei Gemeente het kom uitreik hier by Frontida Outreach.  Ons is so dankbaar en het groot waardeering vir hulle harte, liefde en omgee vir Frontida en ook vir die gemeenskappe waarin ons werk.  Ons deel graag met julle hulle eie getuienisse van 2 van die uitreik lede wat saam met my en Marina tronkbesoek in Bangkok gedoen het (met hul toestemming) soos gedeel op PaarlVallei se Facebook blad.
 
 
Woensdagmiddag het die vlug laat vanaf Chiang Rai vertrek. Die 3 wat moes terugkeer huis toe moes ontrent skarrel om betyds die aansluitingsvlug te haal. Die ander 3 is Bangkok toe, na hulle nuwe tuiste vir die volgende 4 nagte. ń Gerieflike hotelkamer teen ń prys het op hulle gewag.

Donderdagoggend het Petre en Leané reeds 06:00 ontbyt gehad en daarna by Andre en Marina Olivier aangesluit vir besoek aan Suid- Afrikaners wat gevangenis is in Klong Pren Central Prison in Bangkok. Ambassade magtiging wat vooraf verkry moes word, het gehelp dat ons 1 uur afsprake kon kry instede van die normale 20 minute besoektyd. Ons kon toe per telefoon deur deurskynende glas en 2 stelle tralies kommunikeer.
Almal in hierdie deel van die gevangenis is gevonnis omdat hul dwelms in Thailand ingebring het. Andre en Marina besoek hul al n paar jaar. Almal is in verskillende stadiums van ń minimum van 25 jaar vonnis. Andre en Marina tree as skakel met hul ouers op, help party om teologie te studeer, is boodskapper, handlanger, vriend en wat die oomblik ookal meer mag vereis.

Leané en Marina was gelukkig om toestemming te kry om 4 vroue gelyktydig te sien. Leané het die voorreg gehad om saam met Marina na die vrouens te gaan vir die tronkbediening. Dit was 'n baie goeie ervaring en ook wonderlik om die vrouens in die tronk se stories te hoor en na hulle te kon luister. Die vier vrouens kry nie gereeld die geleenthede om met mekaar of met ander Suid Afrikaaners te praat nie omdat hulle in n vreemde land sit en ook in verskillende eenhede geplaas is. Hulle vertel dat dit vir hulle soms baie moeilik is omdat die mense in die tronk meestal Thai praat en 'n bietjie Engels maar dat dit tog vir hulle lekker is om hulle moeder taal te praat.

Petré en Andre het elk met een persoon op verskillende tye gesels. Petre was eerste met Pieter van Phalaborwa aan die beurt. Hy studeer teologie. Die gemaklike gesprek het oor rugby, SA politiek, gevangenislewe en godsdiens gegaan. Pieter straal in sy liefde vir Jesus. Hy ken sy bybel en haal vele verse tydens die gesprek aan om situasies te motiveer. Behalwe studies doen hul daagliks bybelstudie. Daar is al meer as 46 Thaise bekeerlinge. Verlede week het daar juis weer 2 tot bekering gekom. Prys die Heer.


Daarna was dit 21 kilometer per bus, taxi en selfs skoeter terug hotel toe. Vervul met verwondering hoe God mense in moeilike omstandighede ondersteun en gebruik, maar ook fisies en geestelik uitgeput. Later het Petre ook Pieter se ma telefonies geskakel om haar van haar seun se welstand te verseker. Dit was nie lekker om ń ma te hoor lag van blydskap om iets te hoor en tersefdertyd ook te huil van verlange nie.

Vanoggend is net Petré en Andre gevangenis toe. Petré kon toe met Charles praat. Hy studeer ook teologie en word aanvaar as die leier tussen die Christene omdat hy al die langste daar is, maar ook omdat hy al die langste pad saam met die Here loop. Petré word bedien uit die Woord van die Here en Charles bid ook vir hom. Mens kan dit nie beskryf nie. Die Here leef in en deur hierdie man. Sy enigste bekommernis is ń ou moeder van 80 jaar wat hy in die steek gelaat het. Sy ou vader is vroeër vanjaar oorledeop 84 jarige ouderdom.

Die gevangenislewe is nie ń bedreiging vir Charles en Pieter nie. Dit is ń geleenheid om Thai mense na Jesus te lei. Ja, daar het gister nog een sy hart vir Jesus gegee.

Mag die Here jul seën, vriende in die tronk.




No comments:

Post a Comment