Sunday 6 May 2018

7 Mei 2018 - Uitdagende Tye

In die wêreld beleef ons uitdagende tye. Donker sondigheid is aanhoudend aan die aanval op individue, mense groepe en die uiteinde daarvan is chaos. Suid Afrika se probleme, Noord Korea se probleme, die Midde Ooste, Asie – eintlik is die hele wêreld in een siek kringloop van die bose met eie agendas vir self verryking en mag.

                                   

Maar hoe hanteer ons as Christene dit? Hoe moet ons wat onsself Christene – volgers van Jesus noem, hierdie chaos hanteer? Ek dink ons kan diep, baie diep kyk na die Saligsprekeninge wat Jesus mee begin het by Die Bergrede. 


“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die Koninkryk van die hemel”:

Dit is 'n tyd vir gebed en afhanklikheid van God eerder as om op hoogmoed se rug te ry en onsinnige uitsprake te lewer. Daar is kwessies wat nie eenvoudige oplossings het nie, daarom is God die enigste een waarop ons afhanklik van kan wees. Fokus op God se Koninkryk is ons primêre funksie.
                                  

“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word”

Dit is ook nou ‘n tyd waar daar magdom mense is wat treur (as gevolg van diefstal, korrupsie, moorde, kapings en nog vele meer). Agter dit word vermoed dat daar individue is met private ambisies en agendas deur mense wat magsbehep is. Maar ons moet ons skaar by die wat treur wat dit is hulle wat vetroosting nodig het in hulle tyd van lyding en ellende. Ons moet blye boodskappe bring aan hierdie individue wat treur en in nood is. Om hulle op te beur sodat hulle nie gevangenisse word as gevolg van gebeure nie, maar eerder vrylating aan te kondig.


“Geseënd is dié sagmoediges want hulle sal die nuwe aarde ontvang:”

Krisisse bring beide die beste en die ergste in mense uit. Een van die ergste kan die druk wees vir 'n sterk leierskap, vir fermer maatreëls of selfs radikale verandering. In teenstelling bied sagmoedigheid geen agenda nie. Hulle luister en soek wysheid by God wanneer hulle uitgeput en oorlaai is. Hulle ontstel hulle nie oor die voorspoedige lewens van skelms nie want dit bring net ellende en hulle weet skelms sal uitgeroei word. Sagmoediges stel hulle vertroue dag en nag op Die Here.
                                      

“Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is want hulle sal versadig word:”

Soos wat daar trane van hartseer vloei, is daar ook vloeiende trane met ‘n werklike begeerte vir geregtigheid en verduideliking, en eerlike reaksies. Tog is daar binne hierdie stemme soortgelyke krete wat deur woede en die honger van wraak gedryf word – die najaag van persoonlike bevrediging. Geregtigheid lê in God se hande. Wraak lê nie op Sy hart nie. God se belonging is volkome tevredenheid want ons honger en dors lê daarin om Christus te ken, die krag van Sy opstanding te ondervind en deel te hê aan Sy lyding deur aan Hom gelyk te word in Sy dood.

“Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”

Barmhartigheid moet nie net getoon word tydens tye van krisisse nie. Dit is bemoedigend wat mens sien en lees, maar daar moet meer wees en dit moet voortduur wanneer die kameras weg is. Daar is nie nou tyd en plek vir liefdeloosheid nie. God se beloning is Sy genade, al verdien ons dit nie maar ons is kinders van God en Hy het ons lief daarom moet ons Sy voorbeeld volg. Ons moet ‘n lewe van liefde lewe soos Christus vir ons gelewe het.

“Geseënd is dié wat rein van hart is want hulle sal God sien:”

Dit is maklik om deel te neem aan proteste wat chaoties is, te plunder en klippe te gooi. Bedrog en om skelm te wees is aanvaarbaar solank jy nie uitgevang word nie. Stel jouself voor wat sou gebeur het as Jesus nie ‘n hart van reinheid gehad het nie. Ons moet seker wees dat in wat ons sê en doen, ons werklik die welvaart van ander soek, eerder as om ons voorspoed te soek. Die wêreld ken nie vir God nie maar ons ken Hom. Ons weet nie wanneer Jesus kom nie, maar omdat ons kinders van God is weet ons dat wanneer Jesus kom ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. As ons hierdie verwagting in verband met Jesus koester sal ons onsself rein hou soos Jesus rein was/is.
                                  

“Geseënd is dié vredemakers want hulle sal kinders van God genoem word:”

Miskien is die mees ontstellende element van hierdie tye die gevoel van onenigheid; van faksies, van gemeenskappe wat in toenemende bittere terme van “hulle” en “ons” praat. Vredemaking kan ‘n seën vir elkeen van ons wees as ons vrede vir almal gun en toewens. God gee vir ons ‘n kykie na die riglyn van ‘n Christelike lewe in Romeine . . . net dalk moet ons dit met insig bestudeer en toepas.

En ten laaste - "Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die Koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik als wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg”

Die laaste en langste van die Saligsprekinge is die moeilikste. Jesus sê om al hierdie dinge te doen is nie 'n maklike pad na gewildheid en lof nie. Inteendeel, om 'n vredemaker te wees moet verseker word dat hy deur beide kante vertroue, gehaat en aangeval word. Jesus het geleer wat Hy geleer het want Hy het geweet waaroor Hy gepraat het.
                                    


Dit is uitdagende tye, maar dit is ook tye van groot geleenthede. Geleenthede om te bid, te dien en miskien effens minder gemaklik - om te ly vir wat reg is.

No comments:

Post a Comment