Saturday 18 April 2015

Nuusbrief: Maart 2015

Frontida Outreach Nuusbrief Maart 2015

Liefste vrinne,
Solank daar nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie (Hebreërs 3:13) . . . Die liefde soek mentors.   Soek na ‘n mentor wie se hart vir Christus eerste kom bo enigiets anders.

Ons huisie is weer vol.   Marina is terug nadat sy vir ‘n ruk langer agter gebly het in Suid Afrika.   Sy het ‘n onvergeetlike bedieningskuier gehad.   Alle eer aan God vir alles en nog meer wat tydens die tuisbesoek tyd plaasgevind het en ons bid saam vir die uitvloei tot eer van Sy Koninkryk van die Geesvervulde tye saam met individue, groepe en familie.

Die laaste ses weke was ‘n bedrywige tydjie hier.   Nie alleen gaan Frontida Kidz in volle swang met nuut geinspireerde idees, materiaal en leering hardloop nie, maar die byvoeging van ons “advance Engels” klasse op Dinsdae aande maak ons opgewonde.  Die individue kom met ‘n afwagting wat hulle ernstig opneem en ons is dankbaar daarvoor.
Daar is ‘n mede Suid Afrikaner wat in een van Bangkok se gevangenisse is met wie ons al te doen gehad het oor tyd.   Gerrit Booyens van Bangkok besoek hom maandeliks maar Gerrit en sy lieflike vroutjie Lisa, kom nader aan hul eindtyd hier in Thailand in hul bediening.   In Desember het die Here dit op my hart gebring om ook die individu maandeliks te besoek in die gevangenis.   Ek het nie geweet dat Gerrit en Lisa einde se kant toe staan in hul bediening nie. Toe ek dit in Februarie met Gerrit bespreek om ook die individu te besoek, het Gerrit meegedeel dat hy al bid vir iemand om na vore te kom om sy rol oor te neem ivm die besoek en skakeling tot die individu se familie in Suid Afrika.    God is ons heeltyd vooruit.   Alhoewel die besoek net dertig minute of soms twintig minute lank is, en gegewe die afstand tussen Kanthararom en Bangkok van ses honderd kilometer uitmekaar, het ek vir eers gewonder of die afstand ‘n probleem sou wees om elke maand Bangkok toe te reis vir die dertig minute besoek.   Dit was nou weer my menslike gedagtes teenoor God se opdrag, maar toe ek die individu twee weke gelede besoek het saam met Gerrit . . . ek wens dat ek elke week die individu kan gaan besoek.   Om dan ses honderd kilometer ver te reis vir dertig minute se besoek en weer ses honderd kilometer terug te reis . . . geen geld kan daardie kosbare dertig minute koop nie. 

Monsoon tyd is op hande.   Die weer begin stadig sy draai maak en ons sien met groot opgewondenheid uit na die groenigheid en natuurmooi van Thailand tydens rys oeste.   Die afgelope tyd was maar vaal en buitensporig warm.

Ons het die voorreg gehad om by Danie en Marina Krynauw in Pattaya te kuier.   Hulle is al meer as twintig jaar besig met bediening hier in Pattaya.   Hulle het onder andere die Pattaya International Church, asook ‘n Thai kerk in Koh Si Chang eiland.   Twee groot bedieninge.   Ons prys die Here dat Hy ons na hulle toe gestuur het om meer te gaan leer van bediening in Thailand en veral oor kinderbedieninge.   Ons staan verstom oor hoe God hulle gebruik vir Sy Koninkryk uitbouing maar ook oor hulle gehoorsaamheid aan God se Woord.   Hulle liefde vir God word in elke tree, beweging, woord en daad in wese uitgebeeld.   Twee kosbare dissipels

Gebedsversoeke:

  • Vrinne, ons benodig dringend ‘n motor.   Stadig aan brei Frontida uit en sommige plekke van bedien is ver uit die dorp uit.   Selfs in ander provinsies.   Ons moet goedere vervoer, Frontida Kidz Sondagskool toe neem en nog meer.   Ons monsoon tyd begin alweer binnekort en met die baie rëens maak dit vir ons bitter moeilik om te funksioneer met die een motorfiets wat ons het.   Ons het om en by R200 000 nodig om ‘n voertuig (tweedehands) te bekom.   Help asb bid dat God die fondse sal voorsien om ten einde ‘n voertuig te kan aanskaf. 
  • Bid ook asseblief dat God vir ons deure sal oopmaak vir ‘n groter woning waar ons die uitgebreide kinderbediening kan huisves.

Julle is ons ondersteuners en ankers in gebed.  Dankie dat julle ons in staat stel om met ons bediening, Frontida Outreach, die Evangelie te kan verkondig hier in Kanthararom, Thailand.                                          

Die Here van die oeste sëen elkeen van julle ryklik.
 
Frontida Outreach
Andre Olivier    - +66 (0) 9 5048 6080              
Marina Olivier  -  +66 (0) 9 4980 2311              
Adress: 27/30 Moo 5, Tandon Doom, Kanthararom,Sisaket, Thailand, 33130
Bank details: Frontida, Capitec, Savings acc 1317286438 Branch code 470010

No comments:

Post a Comment