Friday 3 June 2016

Frontida Outreach Nuusbrief Junie 2016

Liefste vrinne,

Nou ja, die volgende hoofstuk van ons bediening het aangebreek.  Kan nie glo ons is al twee en ‘n half jaar permanent hier in Kanthararom nie.  Tyd staan definitief nie stil nie.  Inteendeel dit vlieg letterlik.  So van vlieg gepraat, die nuwe hoofstuk het ook op ‘n vlieënde wyse begin.



Uitreike besoek vanuit Suid Afrika . . . 
Oor drie weke (26 Junie) land ‘n uitreikspan van Bergsig Gemeente, Durbanville Kaapstad  wat vir ons kom kuier. (Dirk Coetzee van King Fischer Mobilising Centre kom ook saam) Die uitreik strek vanaf 26 Junie – 6 Julie.  Die span sal vier dae saam ons in Kanthararom spandeer en dan gaan maak ons saam met die span ‘n draai ook in Bangkok en Chiang Mai. Oswald Opperman sal agter bly om verder in ChiangMai en weer by ons in Kanthararom te bedien.  Ons is opgewonde vir die uitreik want dit sal amptelik die eerste uitreikspan wees wat in Ban Frontida sal tuis gaan. 
 
Ban Frontida . . . ons bedienings huis.
Ons was Maart en April (2016) in Suid Afrika vir ‘n twee maande tuisbesoek.  Ban Frontida was natuurlik toegesluit tydens die tyd en julle kan net dink hoe die stof opgegaar het oor dié tyd.  Omrede die balkon bo oop is na die huis toe, het die huis erge stof – glo dit of nie, blare en nog meer van buite af ingekry.  Die winde was baie sterk gewees oor die tyd.  Operasie skoonmaak het begin en dit het ons n goeie klompie dae se werk en baie sweet geneem om die huis weer stof en ‘gedierte’ vry te hê.  Terselfde tyd het die waterpomp van die boorgat ook knieserig geraak.  Dit het ons ‘n tydjie geneem met baie frustrasie agv ‘Thai tyd’ om weer die water aan die gang te kry. 
Ons het verskeie projekte vir Ban Frontida geloots terwyl ons in SA was en ook voort gegaan daarmee toe ons terug in Thailand gearriveer het  Prys die Here vir individue, kerke en  kleingroepe wat hande opgesteek het om betrokke te raak. Die beloofde skenkings het reeds stukkie vir stukkie begin inkom. Ons stap die pad in geloof en is ons vol vertroue dat ons binnekort al die nodige fondse sal hê ten einde Ban Frontida ten volle operasioneel te bedryf.
Daar is ‘n paar projekte wat nog nie ‘eienaars’ het nie. Kontak ons gerus via epos frontidaoutreach@gmail.com as jy gelei voel om so betrokke te raak by Frontida Outreach.
 
Frontida Kids . . .
Ai, hoe lekker was dit nie om weer die ou gesiggies van Frontida Kids te kon sien en elkeen net ‘n “hallo’ drukkie te gee.  Duidelik het ons mekaar geweldig gemis. Ons prys Die Here vir die veilige bewaring van ‘ons’ kinders tydens ons afwesigheid in Kanthararom.
Ons het alreeds in volle swang weer begin met die kinders en het al wonderlike tye weer saam gehad.  Prys die Here daarvoor.  Die kinders raak nou groot en so ook die uitdagings wat ons in die gesig staar met hulle.
Ons benodig dringend meer ‘partners’ (borgskap) vir ons Frontida Kids Food Sponsorship program. Kontak ons gerus by frontidaoutreach@gmail.com vir meer detail. As jy gelei voel om n maandelikse of eenmalige kontant bydrae te maak kan jy van die onderstaande bankbesonderhede gebruik maak met verwysing: Kids Food.
Imagine (Kids)Jeug Beweging  . . .

Baie van julle weet of is bewus van die Imagine Jeug beweging in Suid Afrika.  Ons is so opgewonde om in venootskap te wees saam met Imagine Kids en Frontida gaan die eerste Internasionale Imagine Jeug kamp aanbied hier in Kanthararom, ons tuisdorp.  Ons is alreeds aan die voorberei vir die kamp wat gehou sal word vanaf 10 – 12 Desember 2016.  (datum het verander was eers 27-29 Desember 2016)
 
Maandelikse Tronk bediening . . .
Ek (Andre) stap nou al ‘n jaar en ‘n half ‘n pad met ‘n mede Suid Afrikaner, “Jan” wat hier in Bangkok in die tronk is.   Ek besoek hom elke maand vir twee dae op ‘n keer en dien ook as ‘n skakel tussen hom en sy familie in Suid Afrika.  Ek help hom ook met sy Teologie studies wat hy tans mee besig is.  Daar is intussen nog ‘n Suid Afrikaner, “Koos” wat God op my pad gesit het wat ook in die gevangenis in Bangkok is.  Van hierdie maand af besoek ek dan vir Jan en Koos.  Koos het 27 jaar tronkstraf gekry.  Dit is nie altyd maklik vir die ouens nie (uit die aard van die saak) en meer as soms is die besoeke baie emosioneel op hulle en op myself ook.  Ek vra voorbidding vir die besoeke dat die Heilige Gees se alomteenwoordigheid, God se liefde en vrede altyd raakgesien sal word tydens besoeke en vir hul lewens daarna in die vreemde omstandighede en alleenheid.  Dit is ‘n voorreg om deel van hulle lewens te wees en ek dank en Prys die Here vir die seëninge wat Hy gee wat die besoeke en ‘fellowship’ moontlik maak.
 
Gebedsversoeke:
  • Vrinne, ons vertrou nogsteeds op God vir die motor wat ons benodig.   Ons wil julle vra om saam met ons in indringende gebed van noodsaaklikheid te gaan oor die saak en dat God sal voorsien as dit in Sy wil is vir ons om ‘n voertuig te kan hê vir ons bediening.
  • Bid asseblief vir die uitreikspan.  Bid spesifiek dat hulle  in gehoorsaamheid sal beweeg van wat God aan hulle wil openbaar vir dit wat hulle vir Hom moet doen tydens die uitreik. Bid ook dat die uitreik vir elkeen van die spanlede tot groot persoonlike seën sal wees.
     
  • Bid asseblief vir  Frontida Outreach se projekte wat tans op die tafel is.
     
Onthou ook dat julle ons kan volg op Facebook onder - FRONTIDA OUTREACH


Julle is ons ondersteuners en ankers in gebed.  Dankie dat julle ons in staat stel om met ons bediening, Frontida Outreach, die Evangelie te kan verkondig hier in Kanthararom, Thailand.   Indien julle finansiële ondersteuning vir ons bediening wil doen, kan julle van die onderstaande bankbesonderhede gebruik maak.
Die Here van die oeste sëen elkeen van julle ryklik.
 
Groete
André & Marina Olivier
 
 
 
 
 
 
 
Bank details:                                            
Capitec Bank  
Frontida                                             
Savings acc 1317286438                        
Branch code 470010
 
or for International Donations
 
Andre Olivier
Bangkok Bank Public Company Limited
Savings acc 4870604313
Swift code BKKBTHBK



No comments:

Post a Comment