Ons geniet die monsoon rëens op die oomblik. Die aand temperatuur daal bietjie na so
32grade en dan natuurlik lê al die groen ryslande rondom mens. Van die ryslande lyk soos ‘n sagte groen dik
wolkombers. In jou verbeelding sien jy
net hoe jy heerlik daarop snoesig lê en rondrol. God se skepping “whoo” mens elke oomblik.
Tyd vlieg darem.
Teen Desember sal ons al vier jaar hier in Kanthararom wees. Ons sit nou die dag en dink hoe dit was toe
ons hier aangekom het – rou - rou en elkeen met net twee tasse vol klere. Om die werklikheid van “sendingveld” te
beleef het eers twee maande later begin toe ons ons heel eerste verlorenes by
ons huisie gehad het.
Agt kindertjies
het hier in ons huisie gesit die oggend en ons het mekaar aangestaar en
bekyk. Intussen het die agt kinders ouer
en meer geword. En van hier af het dinge
net begin vloei. God het ons na plekke
en individue geneem waar ons nooit in ons wildste drome dink ons sou beleef of
gesien het nie. Glorie tye, hartseer tye
en meer. Maar die lekkerste lekker is om
te weet en te sien dat God aan die werk is.
Ons het hierdie jaar meer kerke opgesoek in ons
provinsie. Ons het verhoudinge met
verskeie kerke hier waar ons gaan kuier en ook hul Sondag dienste bywoon. Ons het nuwe kerke sien opkom en dan ook gesien
waar ‘n kerk ontbind het.
Onthou dat
kerke oor die algemeen maar klein is hier (tussen 7-12 mense.) Maar ons is dankbaar om verhoudinge met die
kerke te hê en hulle te help waar ons kan en hoe ons kan.
Ons is mos nog in die proses om ‘n junior sokkerspannetjie
hier in Kanthararom op die been te bring.
Aanvanklik het ons gedink om sommer net ‘n groepie seuns bymekaar te
maak en “wala” daar is ons span.
Maar
ons het vining agtergekom dat God ander planne of ‘n ander manier van werk
het. Ons is genoodsaak om geduldig te
wees tot Hy vir ons uitwys watter seuns ons moet vat en nie. Ons het ses seuns op die oomblik. Vir die junior spannetjie kort ons nege
spelers. Intussen neem ons die seuns
elke tweede naweek na die Sisaket Football Academy toe waar hulle afrigting
ontvang. Die seuns geniet dit so baie
dat hulle al 08:00vm op ‘n sokker dag aan ons deur kom klop . . . en ons ry
eers 13:45nm. Huidiglik is daar een
Christen seuntjie in ons span en ons weet wat sy taak sal wees.
Ons maandelikse besoeke aan ons mede Suid Afrikaanse
broers en susters wat in Bangkok in Khlom Prem tronk is was die afgelope tyd
baie emosioneel. Een van die mans in die
tronk se seun het vir hom kom kuier vanuit SA.
Ons het alles gereël sonder dat sy pa geweet het sy seun kom kuier. Ons
het bystand gegee vir die week wat sy seun hier was in Bangkok. Dit was die
eerste keer in amper ses jaar dat pa en seun mekaar weer gesien het . . . en
dit deur ‘n vuil venster en tralies waar hulle per telefoon met mekaar
praat. Die moment toe sy pa sien dit is
sy seun . . . daardie oomblik kan nie beskryf word nie. Vergifnis – versoening en liefde was al wat
hulle twee omring het.
Aan die einde van
die week het die seun gesê hy verstaan en sien God se groter plan met sy pa se
lewe, ek dit het vir hom as seun vrede gegee – en dit alleen was ongelooflik
gewees. Net God se genade en liefde het
hulle twee gedra daardie week. Niks
anders nie. Met die ander individue gaan
dit goed. Hul studies vorder mooi en God
se kerk word al sterker en sterker daar in die tronk. Prys die Here hiervoor.
Elke Vrydag oggend hou ek (Andre) Bybelstudie in ons
plaaslike mark. Aan die begin was ek
skrikkerig maar na vier maande staan ons net in ongeloof. Ons het begin met drie mense en nou is ons al
agt wat elke week opdaag. Die mark is
mos oop en mense loop verby ons stalletjie, stop en loer wat ons doen.
Sommiges staan vir solank as ‘n halfuur en
luister. Wat gelooflik is is die vrae
wat hulle vra oor die onderwerp waarmee ons besig is. Ons raak opgewonde oor die vrae want ons weet
die Heilge Gees is aan die werk. Huidiglik
is ons drie Christene, twee Katolieke en vyf Buddhiste wat weekliks Bybelstudie
doen. Ons kan maar net die saad plant en
kyk hoe God dit laat groei.
Vriende ons is op tuisbesoek in SA DV vanaf 27
Oktober 2017 tot die eerste week in Januarie 2018. Ons weet dit is nog vroeg maar tyd vlieg so
vining verby.
Ons will julle vra om ons
per epos of whatsapp te kontak sou julle behoeftes het dat ons “formele”
besoeke moet aflê November maand. Hierby
verwys ons na klein groepe, dames groepe, kerkdienste ens. Ons weet baie mense gaan met vakansie oor die
Desember tydperk dus sal ons voorbereid wees om November maand hard te werk om
afsprake na te kom.
Gebedsversoeke:
· Bid
saam met ons vir die voorsiening van ons vlugkaartjies terug Thailand toe begin
Januarie 2018. Vlugkaarjies is maar ‘n
groot uitgawe en ons het julle hulp nodig vir gebed hiervoor. (R19500 vir beide
van ons)
· Bid
saam vir verblyf en vervoer vir wanneer ons in SA is tydens ons tuisbesoek.
· Bid
saam vir finansiële bydraes tot ons bediening hier in Kanthararom wat meer en
meer uitbrei.
Onthou ook dat julle ons kan volg op Facebook onder
- Frontida Outreach
Julle is ons ondersteuners en ankers in gebed. Dankie dat julle ons in staat stel om met ons
bediening, Frontida Outreach, die Evangelie te kan verkondig hier in
Kanthararom, Thailand.
Die Here van die oeste seën elkeen van julle ryklik.
Liefde
André & Marina
Olivier
No comments:
Post a Comment